SAPD en Afriforum stuit grondgryp in Witrivier

Afriforum Buurtwag se Dian Pretorius hou die betogers fyn dop.

Terwyl die res van die land vroeër vandeesmaand die strate in protes teen pres. Jacob Zuma ingevaar het, het die EFF weer soos aan die begin van die jaar, probeer om grond in die Hillside-omgewing te beset.
Hoewel dit die partyleier, mnr. Collen Sedibe was wat ondersteuners tydens die vorige poging op sosiale media aangemoedig het om die grond op te eis wat kwansuis aan hulle behoort het, is die oorsprong van die mees onlangse uitnodiging nog onbekend.

Grondgrypers redeneer dat die regering die grond ongeveer 10 jaar gelede aangekoop het, en dat hulle die reg het om dit te beset.

Meer as 40 voertuie en talle EFF-ondersteuners het soos in Januarie, met grawe, kapmesse, pale en stokke gereed gestaan om vir hulle ‘n stuk grond af te pen.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in samewerking met die AfriForum-buurtwag in Witrivier, het dié beplande grondgrypveldtog gestuit deur betogende EFF-ondersteuners van die oop stuk munisipale grond af te verwyder.
Lede van die buurtwag het by die twee T-aansluitings op pad na die bepaalde gebied stelling ingeneem om motoriste te waarsku om alternatiewe roetes te gebruik.

Mnr. Dawie Ruthven, ook ‘n buutwaglid, het met ‘n vastevlerkvliegtuig vir lugsteun gesorg en inligting aan die SAPD op die grond deurgegee.

Die polisie se onluste-eenheid is ontbied, waarna hulle die skare uiteengejaag en verwyder het. “AfriForum is in die proses om vas te stel of die organiseerder van die grondgrype wel ‘n EFF-lid is, al dan nie, en sal indien wel, ‘n toepaslike klag van minagting van die hof teen hom indien in die lig van die interdik wat AfriForum en AfriSake teen die EFF verkry het.
Hierdie interdik verbied Julius Malema en die EFF om onwettige grondgrype aan te hits,” het mnr. Dian Pretorius, voorsitter van AfriForum se buurtwag gesê.
“Ek wil die SAPD vir hul uitstekende diens bedank, asook al die betrokke buurtwagte en persone wat bystand gelewer het,” het Pretorius gesê.
Sedibe en Cyril Chuene is vroeër vanjaar in hegtenis geneem. Die saak, wat aanklagte ingesluit het wat met openbare geweld verband hou, is egter teruggetrek.
“Ons is onregmatig aangekla,” het Sedibe aan White River Post vertel.

  AUTHOR
Stefan de Villiers

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Wingrave kry groenlig vir ‘n naweek tuis