Die toekoms wink vir Witrivier se bekende kleuter

Pure plesier - Antoiné Dingle saam met boetie Matt in die swembad.

“Vang my!” skree Antoiné Dingle uitgelate en boetie Matt moet bontstaan om haar lyfie stewig beet te kry toe die driejarige kleuter sonder huiwering in die swembad spring.

Dié toneel begroet my in die agterplaas van hul huis toe ek by Melanie en haar gesin gaan kuier. Antoiné is pas tuis na hopelik ‘n laaste kuier in die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal en kan nou na hartelus in die water baljaar – iets wat sy sedert Maart nie kon doen nie.

Die woelige meisiekind het die afgelope maande diep in mense oor die wêreld heen se harte gekruip nadat Melanie ‘n Facebook-bladsy gestig het, waarop sy haar hart en hulle lewens oopgestel het vir belangstellendes. “Omdat almal op die dorp my ken en altyd wou weet hoe dit gaan, was dit die maklikste uitweg.”

Sy spot dat sy later vir Antoiné ‘n hempie wou laat druk waarop staan “Google asseblief CCHs (congenital central hypoventilation syndrome)” omdat mense graag na haar keel gewys het as hulle haar sien.

Laevelder en White River Post het dikwels berig oor die kleuter se stryd met sentrale apneehipopneesindroom, twee lewensgevaarlike toestande. Sy hou op om asem te haal (apnee), haal soms weer te stadig asem (hipopnee), en moes sedert April met ‘n trachi in haar keel snags hulp met asemhaling kry.

Omdat water in haar keel kon afloop, moes sy natuurlik uit die water bly. Verder moes sy daagliks baie pyn verduur wanneer mamma, gelukkig ‘n paramedikus met die nodige ervaring en kennis, die toestel skoonmaak.

Met hulp van die Laeveldse gemeenskap kon Antoiné egter op 24 September ‘n diafragmapasaangeër kry en die trachi is verwyder.

Met een oog op haar kleuter in die swembad, vertel Melanie van die stryd van die afgelope maande en gee sy ook ‘n kykie op wat nou op Antoiné en die gesin wag.

“Sedert Maart het ek slegs ‘n paar weke in my eie huis kon deurbring,” vertel sy. “Die hele April en Mei was ek in die hoësorgeenheid saam met haar.”

Hoewel al die aandag in dié tyd op haar en Antoiné was, was haar man Attie die stille held wat tuis oor sy dogtertjie se toestand gewroeg het terwyl hy vir die ander twee kinders, Matt (13) en Megan (10), ‘n normale lewe probeer skep.

Die gesin het uiteraard finansieel en emosioneel swaar getrek. In 2015, die jaar waarin Antoiné se toestand gediagnoseer is, het Melanie ook haar werk en gevolglik haar huis en ander besittings verloor. Genadiglik het sy later weer haar werk teruggekry maar steeds kon sy nie haar plek oral volstaan nie.

Sy het al vergeet wat ‘n rustige nag beteken. Waar sy altyd ‘n baie betrokke ma by haar ander kinders se skoolwerk was, kon sy dit nie meer bybring nie. Dis een van haar prioriteite om nou daarvoor te probeer vergoed.

Sy kan nie uitgepraat raak oor die ondersteuning wat hulle uit alle oorde ontvang het nie, maar vertel dat Ettienne en Angelique Cooper van Pick n Pay Witrivier se ondersteuning haar die meeste geraak het. “Vir drie maande lank het hulle alles wat ons nodig gehad het by die kosstalletjies wat ons gehou het, geborg. Angelique was met elke fondsinsameling dáár om te help en verras my telkens nog met ‘n onverwagte bydrae.”

Dieselfde kan sy egter nie van alle ondersteuners sê nie. Die gesin moes uiteindelik R100 000 by iemand leen nadat dié bedrag op radio aan hulle belowe is, maar steeds nie oorbetaal is nie.

Hoewel die toekoms heelwat meer rooskleurig lyk, sal dit ook nie sonder uitdagings wees nie. Antoiné moet steeds gereeld vir verskeie toetse gaan. Sy moet fisio- en spraakterapie kry en die hele gesin kry saam met haar berading om die trauma van die omstandighede te verwerk.

Terwyl Melanie dié dinge vertel, word nóg ‘n droom vir Antoiné waar: sy kry ‘n katjie by vriende present. Dadelik word ‘n tietiebottel vir die diertjie voorberei en poseer sy gewillig vir ‘n foto met haar nuwe liefde.

Sy is nou amper gereed om weer kleuterskool toe te gaan, maar haar ouers het wyslik besluit om daarmee tot volgende jaar te wag. Intussen beplan die gesin eers ‘n broodnodige vakansietjie saam om tot verhaal te kom.

En terwyl sy die lewegewende pasaangeër nou in ‘n klein “handsakkie” kan saamdra as sy snags haar eie bed vir Mamma s’n wil verruil, staan die hartmasjien en ventilator vir eers, hopelik vir altyd, ongebruik.

  AUTHOR
Mariana Balt
Editor

Latest News

COMMENTS

Top

Thanks for your referral. We have no doubt your friends will love our newsletter as much as you!

Don't forget to verify your email.

to our FREE newsletter
SUBSCRIBE to our FREE newsletter.




SELECT your titles:

Barberton Times
Corridor Gazette
Hazyview Herald
Lowvelder
Mpumalanga News
Nelspruit Post
Steelburger News
White River Post


Get regular news updates sent directly to your inbox.

Your source of local breaking news and trending stories from across the country.

Be a part of our growing community

1MILFacebook Fans
98KTwitter Followers
5MILMonthly Readers
12MILArticles Published Every Month
72Local Community Websites
CLICK HERETo view an example of our newsletter

SUBSCRIBE to our FREE newsletter

SELECT your titles:

Barberton Times
Corridor Gazette
Hazyview Herald
Lowvelder
Mpumalanga News
Nelspruit Post
Steelburger News
White River Post

Get regular news updates sent directly to you inbox.

Your source of local breaking news and trending stories from across the country.

Be a part of our growing community

Subscribe Here
1MILFacebook Fans
98KTwitter Followers
5MILMonthly Readers
12MILArticles Published Every Month
72Local Community Websites
Your details:


Your friends: